Ek is op die ouderdom van 15 deur ’n modelagent in ’n winkelsentrum in Kaapstad ge-scout, en het op 16 voltyds begin modelwerk doen na ek ’n kontrak met IMG Models, die grootste modelagentskap in die werêld, geteken het.
In dieselfde jaar het British Vogue my as “one of the best new faces” bestempel, waarna my loopbaan behoorlik pos gevat het. Ek het met modehuise soos Givenchy, Prada, Louis Vuitton, Dolce & Gabanna, Valentino, Ralph Lauren, en nog vele meer gewerk. In my eerste seisoen as loopplankmodel het ek oor die 50 shows gedoen.
Daarby het ek veldtogte geskiet vir Oscar de la Renta, Dior, Prada, Coach, ens. Ek het onder andere ook vir internasionale tydskrifte soos Vogue, Harper’s Bazaar, Elle en Marie Claire gewerk.
My werk het behels dat ek van ’n jong ouderdom die werêld vol gereis het. Op ’n stadium het ek besluit om ’n bietjie tyd af te vat van modelwerk en my my matriek deur korrespondensie te voltooi.
Na ’n jaar en ’n half het ek weer begin werk, die werêld vol gereis, getrou en verskeie aanlynkursusse voltooi. Na amper tien jaar in die industrie en drie vol paspoorte later, het ek my eie besigheid begin: Koffie Met Katryn.
KOFFIE MET KATRYN
Koffie Met Katryn (KMK) is gesellige kuiergeleenthede vir vroue, oud en jonk.
By KMK deel ek my lewensverhaal en die lesse wat ek oor die jare geleer het. Dis ook ’n geleentheid vir ander vroue om hul stories te deel en dis inspirerend om te sien hoe ’n groep vreemdelinge saam om ’n tafel kan sit, hul hart oopmaak, stories uitruil, en daar weggaan as vriendinne.