By KMK deel ek my lewensverhaal en die lesse wat ek oor die jare geleer het. Dis ook ’n geleentheid vir ander vroue om hul stories te deel en dis inspirerend om te sien hoe ’n groep vreemdelinge saam om ’n tafel kan sit, hul hart oopmaak, stories uitruil, en daar weggaan as vriendinne.
Hierdie geleenthede bevestig vir my elke keer dat vroue deur soortgelyke lewenservarings gaan. Ons lag, huil, bid en worstel oor dieselfde dinge, al kom dit dalk in ander vorme oor elkeen se pad. Deur ’n veilige omgewing te skep waar vroue bymekaar kan kom en hierdie ervarings met mekaar deel, kan ons mekaar help en bemoedig.
Ek het ook die KMK Kuier-reeks begin waar ek verskillende soorte workshops aanbied, bv. “Sosiale Media vir Vroue Entrepreneurs”, “Mode en Stylwenke”, “Skoonheid: Grimering en Haarsorg” en selfs ’n workshop wat handel oor gesonde leefstyl.
Met KMK wil ek vroue bemagtig, bemoedig, inspireer, en so ’n gemeenskap van vroue vestig wat vrouwees vreesloos omarm om eietydse uitdagings aan te pak.
“Daar is ’n amper tasbare gevoel van begrip, verstaan en omgee wanneer vroue om ’n tafel kan sit en oor ’n koppie koffie hul harte aan mekaar openbaar.”